|
Wielie Wielie Walie op ’n nuwe balie Karel Kraai en Sarel Seemonster trek asem in en roep: “Bennie! Bennie Boekwurm!” Die kinders van die land roep net so hard saam. Bennie Boekwurm kruip verstrooid uit sy boektonnel. “Haai, waar’s julle? Ek kan julle nie sien nie, wag, ek gaan gou my bril haal.” “Nee, Bennie!” Lag Sarel Seemonster, “jou bril sit op jou voorkop.”  Vir agtien jaar het dié toneel hom in Suid – Afrika afgespeel en was Karel Kraai, Sarel Seemonster en Bennie Boekwurm die kinders van die land se maatjies. En nóú het Sony Music met ’n splinternuwe DVD vorendag gekom: WIELIE WIELIE WALIE. Weerens is dit geskryf deur Louise Smit, die skepper van die oorspronklike reeks. Dié Wielie Wielie Walie is propvol grappies, liedjies en stories en verskaf ’n uur se heerlike kykgenot.Bennie Boekwurm vertel twee nuwe stories, “Die Hoendertjie wat tande wou gehad het” en “Hiert, hier is ek, Hildatjie.” “Ek probeer altyd die kinders emosioneel saam met my vat”, sê Louise Smit. “behalwe al die prettigheid op die DVD, leer die jong kykers hoe om te deel en lekker saam te speel. Hoe sê Bennie? As jy van jouself hou, hou jou ook sommer meer van jou maatjies.” Dan word daar ook kennis gemaak met ’n weeskwaggatjie wat sy intrek in die Wielie Wielie Walie – parkie kom neem: “Goeiedag! Goeiedag! k is Wagga Wagga Kwag!” Dié nuwe karakter, Wagga Wagga Kwag, sal net soos Karel Kraai, Sarel Seemonster en Bennie Boekwurm diep in almal se harte inkruip. "Die hele wêreld vra vir Wielie Wielie Walie,” sê Dulinda Pieters, assistant – regisseur van die DVD en regisseur van die verhoogproduksie. “Ons kry e – pos van oraloor wat daarvoor vra. Die ma’s van jong kinders wat daarmee grootgeword het soos ek, wil dit saam met ons kinders beleef. Daar is ’n vraag na die standaard en integriteit van Wielie Wielie Walie. Dis eintlik volksbesit.” Dié Wielie Wielie Walie – DVD is reg vir die kersfeesmark, dan gaan dit weer in die huise weerklik as pa, ma en kind die keer saamroep: “Bennie! Bennie Boekwurm!” |