|
Goeie Nuus... Haas Das en die diere van Diereland kom kuier binnekort in Menseland! Dit beloof om 'n FANTASTIESE vertoning te wees...hou ons kalender FYN dop, sodat jy sommer DADELIK jou kaartjies by jou naaste teater kan bespreek vir ons Haas Das vertoning! Haas Das op Pasella!
1 Augustus 2007 Dié gewilde dierelandnuusleser en sy span is terug! Modern, opgeklits, met ‘n paar nuwe karakters en reg om enige Afrikaanssprekende kind te oorrompel. Dis die een dvd waarsonder jy geen Suid-Afrikaanse kind wil grootmaak nie. Haas Das op Rapport Tydskrif se voorblad!
5 Augustus 2007 Kyk ook uit vir Rapport van 5 Augustus wanneer ons eie mnr. Das die eerste pop sal wees wat die voorblad van ‘n Sondagkoerant in Suid-Afrika haal. RAPPORT 5 Augustus 2007 - Voorblad op die Rapport tydskrif! Haas Das uiteindelik terug! Deur MARTJIE ROOS Daar heers groot opgewondenheid en konsternasie in Diereland én Menseland want Haas Das, die befaamde nuusleser, is terug! Haas Das dra nog steeds dieselfde flambojante dasse en strikdasse, lees in sy vrye tyd speurverhale van Agatha Aartvark of speel alleen-skaak, en hy is nog net so spitsvondig, beleefd en steek die draak met al wat leef en beef. En getrou aan sy sy is sy assistent, die woelige Piet Muis, wat die nuusberigte konsensieus aandra. Die ander bekende karakters van diereland soos Groot Oom Flapoor Olifant, Stokkina Meerkat, Moeder Raaf, Bettina Bobbejaan, Bulletjie Wildebees, Hasie Kwassie en Skillie Skilpad is ook terug om oud en jonk met hul manewales te vermaak. Duisende kinders het dertig jaar gelede grootgeword met Haas Das se Nuuskas – en nou kan ’n nuwe geslag jong kykers Haas Das leer ken deur ’n splinternuwe DVD, Haas Das Hou Konsert, was pas deur Sony BMG uitgereik is. ’n Kinderboek, Haas Das se Nuuskas, met prettige nuwe verhale is ook verlede jaar gepubliseer. Haas Das het op 6 Januarie 1976 sy debuut as nuusleser in die kinderprogram Wielie Walie gemaak, en amptelik was hy die heel eerste nuusleser op televisie in Suid-Afrika. Toe Louise Smit, skrywer en vervaardiger van kinderprogramme, die teks vir die eerste Wielie Walie geskryf het, het sy daai tyd besef kinders kan nie twintig minute lank aaneen konsentreer nie en sy het besluit om ’n kort nuusberig te skryf. “As oud-onderwyser was ek altyd beïndruk met die magiese uitwerking wat ’n pratende pop op ’n kind het. So het die idee van ’n haas wat nuus uit die diereryk lees, posgevat. My broer se skoonpa se bynaam was Klaas Das omdat hy sulke mooi dasse gedra het en só het die naam Haas Das se Nuuskas toe by my opgekom.” Maar Louise moes ’n stem vir Haas Das kry en het verskeie kunstenaars getoets. Toe die destydse radioman Riaan Cruywagen eendag in ’n hoë stemmetjie vir Louise ’n grap in die gange van die SAUK vertel, het Louise hom om die hals geval en opgewonde gegil: “Jy is my haas! Ek het my haas gekry!” Sedertdien het Haas Das, met die stem van Riaan Cruywagen, ’n welbekende en welkome karakter in talle huishoudings geword. “Riaan was die ideale mens om gestalte aan Haas Das te gee, want eintlik is Haas Das sy alter-ego. Riaan is uiters professioneel, ’n absolute perfeksionis en is mal oor woordspelings.” Kykers mis Haas Das al vir jare.
“Mense keer my al 28 jaar in die straat voor om te vra wanneer Haas Das weer eendag terugkom. Hulle het altyd gesê hulle wil vir hul kinders dieselfde vermaak gee as wat hulle destyds gehad het. Maar eintlik was Haas Das nooit heeltemal weg nie …” Louise, die “ma” en skrywer van talle suksesvolle en bekroonde kinderreekse soos Pumpkin Patch, Kideo en Mina Moo, het verlede jaar weer die pen opgetel en ’n storieboek vir die kleingoed, Haas Das se Nuuskas, geskryf. “Die stories het net die een ná die ander soos branders gevloei – en die eerste oplaag is binne een week uitverkoop. Ek het reeds begin om die tweede boek, Haas Das Raak Weg, te skryf. Dit sal voor Kersfees gepubliseer word.” “Ek wou nog altyd kinders vermaak met my stories en hulle laat lag, met ander woorde ek wil kinders gelukkig maak.” Talle hedendaagse kinderprogramme is vol aggressie en plaaslik word niks meer oorspronklik vir die kindermark vervaardig nie, sê sy. “Ons eer nie ons eie karakters in ons land nie. Kyk maar net hoe lank leef ander kinder-TVprogramme soos Sesame Street in ander lande. Hopelik sal Wielie Walie en ander plaaslike kinderprogramme ook weer uitgesaai word. ” Cruywagen, wat in Desember vir die eerste keer oupa word, sê hy is in sy element dat Haas Das nou weer terug is. “Ek kan nie wag om vir my kleinseun Haas Das-stories te lees en te vertel nie,” het hy opgewonde vertel in sy kantoor, waar hy bedags bestuurder van lede- en openbare betrekkinge by die vakbond UASA is. Haas Das het, net soos Liewe Heksie, ’n baie geliefde karakter in ons plaaslike kultuur-skatkis geword. “Die sukses kan toegeskryf word daaraan dat hy so ongekunsteld en volkome eerlik is. “Haas Das steek sedig en subtiel die draak met aktuele sake, lewer sosiale kommentaar, maar hy is nooit venynig nie en gooi alles oor die boeg van Diereland.” Hy dink die teks is wonderlik. “Daar is niks meerderwaardig aan Haas Das nie en die program gaan oor alle kleur- en kultuurgrense. Haas Das is ’n wonderlike erfenis en omdat baie hedendaagse ouers met die karakter grootgeword het, wil hulle die vreugde met hul kinders en kleinkinders deel.” Riaan vertel dat hy as nuusman, joernalis en uitsaaier nooit destyds sou droom om by kinderprogramme betrokke te raak nie. “Ek het vroeër karakterrolle in radioverhale vertolk, maar Haas Das het voorwaar ’n nuwe wêreld vir my oopgemaak.” Hy was ook later die stemme van Koning Rosekrans en die Gifappeltjies in Liewe Heksie – en kan al die stemme vandag nog net so goed naboots. “Daar is so min nuwe Afrikaanse TV-programme vir kinders – die veld lê braak,” meen dié veteraan wat al 32 jaar TV-nuus lees en 42 jaar sy merk in die uitsaaiwese gemaak het. Die nuwe Haas Das wat kykers nou op die DVD sien, is ’n moderne ontwerp deur die poppemaker Althea Oelofse. Sy het ook die nuwe Piet Muis en Boeboe, Bettina Bobbejaan se baba – kompleet met fopspeen en doek – gemaak. Die DVD is ’n produksie van Louise en die sanger Gert van Tonder en vermaak die kleinspan met elf liedjies. Diereland hou ’n spesiale konsert vir koning Leeu omdat sy kop seer is en die sanger Gert van Tonder van menseland kom kuier en sing ook ’n liedjie of twee. Bettina Bobbejaan en haar twee kinders, Boeboe en Bakkies sing en dans byvoorbeeld die Bobbejane-bop, Piet Muis sing sy eie treffer Die dapper Muis, al die diere sing Haas Das se Nuuskas en Mieliekopterlied en Moeder Raaf sing ook ’n liedjie. Benewens Riaan en Gert, is die stemme van onder andere Rouel Beukes, Nic de Jager, Jannie Wolmarans, Dulinda Pieters, Annaretha Naude en Riana van Vollenhoven ook vir die DVD-opname gebruik. Louise vertel daar wag nog heelwat nuwe avonture op die nuwe Haas Das. Sy spesiale vriendin, Stokkina Meerkat, wat ’n joernalis by Veldnuus is, gooi haar flikkers deesdae wild en wakker vir Haas Das en hy gaan drink gereeld by haar vlam-klimop-tee. Maar Haas Das het ook nog al die jare ’n groot bewondering vir Riaan Cruywagen, nuusleser van Menseland. Riaan is sy idol. Toe ek Haas Das oor sy groot rolmodel uitgevra het, het hy gesug: “As ek maar net soos Riaan die nuus kan lees … die regte klem, infleksie en uitspraak.” En terloops, hy hou ook baie van Kobus Wiese se sportkommentaar, het hy bygevoeg. “Kan Kobus nie vir die Springbokke vra om intelligenter te skop nie? Hulle veg vir die bal, kry dit en skop dit dan weg! Dis nie vir Diereland lekker as die mense hulself “bokke” noem en dan só speel nie!” En toe kou Haas Das maar heel angstig verder aan sy wortel. |