|
Haas Das hou Konsert (no.1 - 'n Louise Smit-skepping) Koning Leeu het dae lank reeds 'n kloppende hoofpyn en daarom besluit Haas Das om 'n verrassingskonsert vir hom te reël. Die hele Diereland werk saam om dit 'n onvergeetlike aand te maak. Dié opwindende DVD bied skittervermaak vir die hele gesin. Bestel sommer DADELIK jou eie kopie van HAAS DAS HOU KONSERT (no.1)
Meer oor ons eie Mnr Haas Das: Haas Das is so eg Afrikaans soos braaivleis, boerewors, rugby en dan...Haas Das! Haas Das was die eerste driedimensionele karakter wat Suid-Afrikaanse kinders op tv gesien het. Boonop was hy ook die eerste ‘amptelike’ nuusleser toe hy op 6 Januarie 1976 net na die staatspresident se openingsrede, sy debuut gemaak het. Dié gewilde kinderprogram is nes Wielie Walie deur die talentvolle oud-drama-onderwyseres, Louise Smit in die lewe geroep. Sy was destyds SAUK-TV se regisseur van kleuterprogramme en was nog altyd beïndruk met die magiese uitwerking wat ‘n pratende pop op ‘n kind het. Haar broer se skoonpa se bynaam was ‘Klaas Das’ en dis hoe sy op ‘Haas Das’ gekom het. Die tweede stap was om ‘n geskikte stem vir diereland se nuusleser te kry. Nadat sy twaalf stemme getoets het en nie met een tevrede was nie, het nuusleser Riaan Cruywagen eendag terloops vir haar ‘n grappie vertel. Sy het dadelik geweet dat dit die stem van haar ‘haas’ was. Die bekwame popmaker, Althea Oelofse is ingespan om Haas Das en Piet Muis te vervaardig en siedaar, ‘n program het begin. Althea is ook verantwoordelik vir die nuwe bobbejaankaraktertjie, Boe-boe, wat op die dvd te sien is. Dulinda Pieters wat ook destyds betrokke was by die produksie, is die stem agter Boe-boe en natuurlik is Riaan weer die Das se alterego. |